Van toeka tot nou… ’n Verhaal oor die betroubare Nguni

2022-09-30 05:02 PM
Share this post on:
“Jy maak ‘n reuse fout as jy net kyk na wat verbruikers wil hê en gewildheidskurwes najaag, en dit het ek op die harde manier geleer. Jy is jou eie enkele grootste verbruiker en kliënt, jy moet dus ‘n dier teel wat vir jou in jou unieke omstandighede die beste gaan produseer en reproduseer” – Lochner Eksteen

Die sukses van Exsteen Ngunis begin soos alle goeie verhale, lank, lank gelede….dertig jaar gelede, om presies te wees, in die Piketberg area in die Wes-Kaap. Hannes Eksteen is nog al die jare ‘n beesboer in hart en siel. Sy paadjie tot ‘n pragstoet het begin as ‘n kommersiële boer, wat kruisras beeste met invloed van byna elke ras in Suid Afrika gehad het. Maar die paadjie tot sukses was geensins ‘n eenvoudige een nie. Op sy plaas, Melkbosfontein, waar die winter reënval gemiddeld 312mm per jaar meet, kon hy 1 dier aanhou vir elke 5-7ha grond in sy besit, en byvoeding vir dié diere was ononderhandelbaar. Die area se geweldige warm somers en gereelde droogtes was voortdurend ‘n uitdaging vir die produktiwiteit en winsgewendheid van die boerdery, en sodoende was ‘n winskopie nooit te versmaai nie.

Min het Hannes geweet dat sy winskopie in 1992, ‘n trop Nguni koeie wat hy vir spekulasie gekoop het, die wiel aan die rol sal sit vir ‘n onbeplande stoet wat later jare alle verwagtinge sou oorskry. Die troppie was aangeskaf met die doel om hulle eenvoudig vet te voer en teen ‘n wins te verkoop. Die plannetjie is egter laat vaar toe Hannes besef dat die hele trop dragtig is, waarna die pragtige kallers en goeie moederseienskappe van die koeie hom laat besluit het om hulle in sy kudde aan te hou. Diep beïndruk deur die vermoens van hierdie Nguni koeie, het Hannes voortgegaan en ‘n paar Nguni bulle gekoop asook ou koeie van tussen 16 en 18 jaar oud vanaf goeie stoete. Die koeie sou aangaan om elkeen vir hom nog twee kallers te lewer en goed groot te maak.

Geprikkel deur die ras se potensiaal het Hannes ‘n trop bos koeie vanaf Pietersburg geselekteer wat óf dragtig was óf kallers op die been gehad het om sy eie kudde mee aan te vul. Soos enige goeie teler het hy nie nagelaat om ook ‘n uitstekende bul aan te skaf nie, en suiwer Swazi Nguni bulle afkomstig van Ben Fyver aangekoop. Die Swazi Nguni is een van baie Nguni ekotipes, elk met sy eie sterkpunte en eienskappe, wat lei tot baie groot genetiese variasie in die ras. Hierdie bulle is toe gebruik op al die koeie wat reeds in die trop was, en na ‘n baie erge droogte in 2004 kon Hannes die goeie vrugte van hierdie besluit pluk. Die droogtebestandheid van hierdie ras asook hul vrugbaarheid en prestasie ten spyte van die werklike swak toestande van daardie jaar het hom finaal oorgehaal om van al sy ander koeie ontslae te raak, en voortaan by die Nguni te bly.

In dieselfed jaar het hy Sanga Ngunis, ‘n ander Nguni ekotipe, vanuit Namibië ingevoer. Omtjene Sanga Ngunis, Sandveld Sangas en Caprivi Sangas was ingevoer en suiwer gehou tot en met 2006, waarna Hannes die Swazi bulle op die Sanga koeie gesit en as resultaat ‘n klomp pragtige kallers ryker geword het. Later daardie jaar het die Nguni Telergenootskap die besluit geneem om kommersiële diere as aanhangsels A’s in te bring en as stoetdiere te laat registreer, mits twee senior inspekteurs die dier deur streng inspeksie plaas, en beide bevind dat daar aan al die rasstandaarde voldoen word, en dat die dier stoet kwaliteit is. Tot en met 2006 was die Exteen boerdery nog slegs kommersieel, alhoewel baie moeite ingesit is om die rekordhouding van die diere te bestuur soos ‘n stoet, maar nadat 140 van sy diere goedgekeur is en stoetstatus verwerf het, is Exsteen Nguni Stoet gebore.

Op hierdie kudde het Hannes Eksteen en sy seun, Lochner Eksteen, voortgebou deur te belê in goeie bul genetika en doelgerigte lynteling toe te pas om erfdwang op gewense eienskappe te kry. Hulle hoof fokus punt was, en is en sal altyd wees vrugbaarheid, groeivermoëns en melkproduksie, en daarom is die kriteria vir seleksie in hierdie stoet baie streng.

Vir ‘n vers om aan te bly in die Exsteen Nguni kudde moet sy tussen 12 en 15 maande ouderdom by die bul geplaas word en vat; enige vers wat nie op 24 maande ouderdom reeds ‘n kalf het nie, word bloot geslag. Vir hierdie verse word geen uitsondering gemaak weens klimaats omstandighede, droogte of siektes nie. Van die verse wat wel vat tussen 12 en 15 maande, word slegs die eerste 55% wat kalf gehou om potensieel terug te gaan in die stoet, die ander 45% word verkoop op produksie veilings aan kommersiële boere. So virseker hulle uitstekende kwaliteit aan die kopers. Van daardie 55% wat teruggehou word, word slegs die wat op 36 maande met ‘n tweede kalf staan oorweeg vir die stoet, indien hulle verdere seleksie slaag wat bepaal of die koei fenotipies funksioneel is. So ‘n koei moet ‘n dun en fyn, vroulike nek en gesig he en mooi wig na agter. Een van die belangrikste fenotipiese kenmerke wat die Eksteens na kyk op ‘n koei is die verhouding tussen die lengte van die kruis, met ‘n helling van 12% of meer, en die breedte tussen die sitbene. Hierdie eienskappe van ‘n koei speel ‘n kardinale belang in haar reproduksie vermoens. Verder moet ‘n koei goeie diepte in die agterkwart toon met ‘n lae uier aanhegtiing, sonder dat dit ‘n sak uier is. Laastens word gekyk na die pigmentasie op die spene, neus en die ore; donker pigmentasie in dié dele is ‘n vereiste. Selfs daarna is geen koei gewaarborg om in die kudde te bly nie, en word sy jaar na jaar aan haar kallers se prestasies gemeet; koeie wat al meer as 5 keer gekalf het en minder as 35% kudde retensie op nageslag toon word bloot verkoop indien haar volgende kalf nie gehou word vir eie gebruik nie.

Die seleksie vir bulle om deel van die uitsonderlike stoet te word is net so streng; bulkallers word slegs gekies vanuit die eerste 25% van kallers wat aankom. Bo en behalwe dit moet hy vanaf ‘n koei kom met ekstreme vrugbaarheid en baie goeie melk, en die bulkaller moet bo 50% van sy ma se liggaamsmassa speen. Daarna word die bulle, nes die koeie, deur ‘n fenotipiese inspeksie gesit om die top 8% van bulletjies wat daardie seisoen gehou word te bepaal. Dit is uiters belangrik dat ‘n bul ‘n sterk breë bek, goeie breedte tussen die oë met diep, beskermende oogbanke en ‘n baie manlike kop met goeie breedte tussen horing aanhegtings vertoon. Van voor af moet die skof bokant kop uitsteek, met goeie breedte tussen die bladbene waar dit na die rug aanheg – hierdie is die een fenotipiese eienskap van ‘n bul wat alles in plek laat val. Oor die jare het die Eksteens gevind dat hierdie eienskap 9 uit 10 keer ‘n aanduiding van ‘n wen-bul is. Bulle moet ook ‘n sterk rug hê met ‘n goeie oogspier, maar die toplyn hoef nie heeltemal plat te wees nie. Ononderhandelbaar is ‘n mooi kruis met ‘n helling van 12.5% of meer, met ‘n lang en lae stertaanhegting asook goeie sprong van rib. Vir bulle om geselekteer te word moet hulle ook ‘n bogemiddelde skrotum omtrek van 35cm of meer hê. Daar  moet ‘n bietjie van ‘n boud sigbaar wees op die  bul, en hy moet nie te veel optrek in lieste nie, maar moet wig en swaarder in die voorlyf wees.

Daardie 8% van bulle word dan deur fase D groeitoetse gesit, waarna die resultate van daardie toetse gebruik word om kontemporêre groepe te vorm en bulle met hulle gelykenise te vergelyk. Na die groeitoets, op 12 maande, word 35% van die gekose bulletjies wat nie fenotipies en/of na wense gegroei het nie, of slegte gewigstoenames getoon het, summier geslag. Op 18 maande word die oorblywende bulle deur ‘n verdere seleksie proses gesit, waar ‘n volgende 10% van hulle uitval. Daardie wat oor is word aangebied op die jaarlikse inspeksie deur die genootskap en die twee wat die beste aan die Exteen kriteria voldoen word teruggehou in die stoet vir eie gebruik. Die beter bulle van die lot wat oor is word aangebied op produksie veilings, en die ander aan kommersiële boere. Hierdie streng seleksie prosedure verseker kwaliteit diere aan beide kommersiële en stoet kopers.

Belangrik om te onthou wanneer dit by teling kom is die woorde van Lochner Eksteen: “Daar is nie iets soos n perfekte of beste bul nie, maar daar is n perfekte en beste bul vir jou omstandighede en behoeftes. Dit is uiters belangrik om bul sekelsie toe te pas gebaseer op die behoeftes van jou koei kudde. Identifiseer jou kudde tekorte en skaf ‘n bul aan wat die probleem kan herstel”.

As deel van die telingsbeleid is daar besluit om variasie in bulle in kombinasies te gebruik; generasie een bulle moet laatryp, groot bulle met baie groeipotensiaal wees. Vir generasie twee word ‘n plat, breë en lang bul gebruik om die kallers terug te bring na medium raam toe. Op daardie kallers, die derde generasie, word ‘n medium na grootraam bul wat goed gebalanseerd is en vanuit ‘n sterk oorerflike melk en vrugbaarheids lyn uitkom gebruik, waarna die proses weer oorbegin. Oor die jare het hierdie kombinasie die beste bulle en koeie opgelewer. Vir die teelseisoen word koeie in ongeveer 14 troppe opgedeel wat varieer van 35 koeie tot en met 110 koeie, en enkelbul parings word gedoen. Slegs koeie wat 15 jaar of ouer is word kunsmatig geïnsemineer met saad van goeie bulle wat nie meer leef nie, of met saad van huidige bulle vir doelgerigte korrektiewe parings. Ouer koeie is reeds bewys deur die stelsel en het reeds 14 of meer kallers suksesvol gespeen, daarom is die kans om ‘n gewenste kalf uit so teling uit te kry byna ‘n gegewe. KI kallers word egter aan presies dieselfde standaarde gehou as ander kallers en trek geen voordeel weens hul KI oorsprong nie.

Die Exsteen Nguni stoet verwelkom jaarliks kallers van tussen 11 en 24 verskillende bulle. Groter troppe word gepaar met bulle wie se dogters reeds op ‘n gewenste manier aangeteel het en goed verder in die kudde gereproduseer het. Onbeproefde bulle word gepaar met kleiner troppe, en sal eers uitgeskuif word wanneer sy dogters die toets slaag. Elke jaar word die bulle met die meeste dogters wat nie gevat het nie, slagpale toe gestuur.

Die teling van beeste vereis baie meer as net vermeerdering van jou kudde se getalle; met teling bewerkstellig die boer doelbewuste en merkbare vordering in die kudde deur beplande parings. In die Exsteen stoet word speenkallers jaarliks beoordeel om te bepaal of die bul wat vermoedelik die beste op ‘n sekere koei sou wees, wel die beste is om met haar te paar. Dit is natuurlik ook belangrik om te sien of ‘n swakker kalf die oorsaak van ‘n koei wat swak produseer, of die bul wat haar nie komplimenteer nie is. Dit bepaal jy deur jaar na jaar die koei se produksie te vergelyk.

Die Eksteens probeer om sover moontlik hul eie bulle te teel vir gebruik, maar bulle wat aan al die standaarde voldoen, getoets is en in die verwysingsraamwerk pas sal gekoop word. Dit hang alles af van die beskikbaarheid van die diere. Aangekoopte bulle sal natuurlik kleiner troppe kry, tot tyd en wyl sy kallers hulself bewys.

Die Nguni beesras het homself in hierdie area keer op keer bewys as ‘n uithaler wat stuit vir niks; nadat die Eksteens hul kruisras koeie vervang het en slegs Ngunis geteel het, is die drakrag van die plaas verhoog van 7ha/GVE na 1ha/GVA, met minimale of geen byvoeding wat slegs bestaan uit koringstrooi en ‘n proteïen lek indien nodig. Selfs in een van hul droogste jare, tussen 2003 en 2004, het die koeie 90% vat gehad deur slegs van die veld af te leef. Sedert 2015 tot op hede is die gemiddelde reënval op die plaas maar 175mm/tydens die groei seisoen, tog is daar geen afname in vrugbaarheid te bespeur onder die Nguni koeie nie, en kallers speen geensins ligter nie. Exteen Ngunis kan bo en behalwe hierdie puik prestasies ook spog met vele toekennings en pryse. In 2021, en weer in 2022, was hulle een van slegs 10 kuddes van alle rasse landswyd wat genomineer is vir die “SA Studbook Platinum Award”. In die afgelope ses jaar het hulle 5 keer die “SA Studbook Platinum Award” vir die beste koei van die jaar gewen, asook vier keer die LNR se “Cow of the Year” toekenning. Hulle is ook een van die finaliste vir die LNR se kudde van die jaar kompetisie, waarin slegs 10 kuddes landswyd voor in aanmerking kom. Met hierdie wenresep is die vooruitsig vir Exsteen Ngunis rooskleurig en die toekoms wawyd oop; hulle kon oor die jare leer uit hul foute en elke keer daarop verbeter om ‘n dier te skep wat ideaal presteer in gegewe omstandighede.

“Jy maak ‘n reuse fout as jy net kyk na wat verbruikers wil hê en gewildheidskurwes najaag, en dit het ek op die harde manier geleer. Jy is jou eie enkele grootste verbruiker en kliënt, jy moet dus ‘n dier teel wat vir jou in jou unieke omstandighede die beste gaan produseer en repsroduseer” – Lochner Eksteen.

×

CONTACT US

OR CONTACT US DIRECTLY

SALES Angeliqa Vorster angeliqa@farmspace.co.za
+27 83 282 0595