SA Red Meat Co-op (SARMC) Mediaverklaring rondom die belange van die beesbedryf

Op 24 Oktober 2022 tydens ‘n vergadering van lewendehawe afslaers, is besluit om ‘n entiteit te skep wat die rol van lewendehawe afslaers in die bepaling van die basis markprys vir alle lewendehawe transaksies, sal beskerm en bevorder. Teenwoordigers was dit eens dat die stem van afslaers nie gedurende afgelope jaar of twee tydens krisisse met die verspreiding van bek-en-klouseer, duidelik genoeg gehoor was nie, alhoewel hul besigheid telkens daardeur tot stilstand geruk is. Daar is ‘n ernstige behoefte tot inspraak in sake wat afslaers ten nouste raak.
Daar is ‘n komitee saamgestel om spoedeisend uitvoering te gee aan die besluite van die vergadering. Die komitee beskik oor ‘n magdom kundigheid en entoesiasme wat ‘n konstruktiewe bydrae tot die lewendehawe bedryf sal maak en vertrou dat die reeds bestaande rolspelers in die bedryf die bydrae sal verwelkom.
Na afloop van die vergadering het die komitee gekonsulteer en is daar besluit dat SA Red Meat Co-op (SARMC) as voertuig gebruik sal word om die belange van die afslaers te behartig en hulle te verteenwoordig op elke plek waar dit nodig mag wees om verteenwoordig te word. Lewendehawe afslaers sal lede van SARMC kan word en ook aandele in die koöperasie kan opneem. Lidmaatskap is oop vir alle groepe en individue wat hulle kan vereenselwig met die doelwitte van SARMC.
Verteenwoordiging word egter nie beperk tot afslaers nie. Die totale waardeketting vanaf die primêre produsent tot by die verbruiker word genooi om binne ‘n “lewendehawe industrie alliansie” (LIA) toe te tree tot die uitbou van die rooivleis industrie. SARMC sal projek “LIA” uitrol om rolspelers soos veevervoerders, voerkrale en die verbruiker ‘n aktiewe rol te laat speel in die bevordering van die rooivleis industrie.
Verder is dit die opdrag van die vergadering dat die entiteit se werksaamhede nie beperk sal word tot verteenwoordiging nie, maar aktief gewerk sal word aan die skep van markte, verkryging van finansiering en alle ander aksies wat nodig mag wees om welvaart vir lede te skep.
Willem van Jaarsveld is gekontrakteer om met onmiddelik effek die pligte van hoof uitvoerende beampte van SARMC op te neem. Van Jaarsveld is ‘n landbou-ekonoom met diepgaande kennis van die lewendehawe industrie. Sy ervaring die afgelope jaar met die implementering van biosekuriteitsregulasies by veilingskrale asook sy betrokkenheid by die ontwikkeling van naspeurbaarheidstelsels, sal waarde toevoeg vir lede. Hy sal egter steeds ook verantwoordelik wees vir die lewering van dienste deur die FMD Forum.
Uitgereik deur Beskermhere van die SA Red Meat Co-op op 25 Oktober 2022
Navrae: Willem van Jaarsveld - willem@saredmeat.com of by 082 451 7913