Die Uitnemendheid van Boran Prestasies

“God se gawe aan veeboere” ... “’n moeitelose boerdery” ... “Afrika se beesvleis oplossing” ... “ideaal vir beide die voerkraal, en die veld” ... so is die woorde van diégene wat boer en teel met hierdie uitsonderlike unieke en goed-aangepaste beesras. Hierdie woorde word weerklink in die uitsonderlike prestasies van die Borane by verskeie kompetisies, en in menige studies wat oor die afgelope paar jaar gehou is; prestasies wat die respek van vele boere al geprik het. Dit is te danke aan hierdie ras se vermoë om vleis van hoë gehalte met lae onderhoudsbehoeftes te produseer, terwyl dit die strawwe toestande van die Afrika-kontinent baie goed weerstaan.
Ses-en-dertig uitskotdiere is gebruik in 'n studie wat in 2019 gedoen is om die ekonomiese doeltreffendheid van die Boran-ras te bepaal, en om te bewys dat hierdie diere ideaal is vir voerkraaltoestande. Ten spyte van hul hoër ouderdom en gewig by afronding – wat te wyte was aan 'n langer tydperk op die veld – was die resultate van die studie aangenaam verrassend. Selfs op 'n ouer ouderdom is die meerderheid karkasse as A- en AB-klas-karkasse geklassifiseer, met slegs 'n geringe persentasie wat as B-klas-karkasse geklassifiseer is. Gemiddelde Daaglikse Toenames (GDT's) en Voeromsettingsverhoudings (VOV’s) was baie goed, ten spyte daarvan dat die diere geen groeibevorderaars vir die durasie van die voedingstydperk ontvang het nie. Gedurende die voertyd het geen morbiditeite of mortaliteite voorgekom nie en daar was geen nodigheid vir die toediening van enige medikasie nie, wat werklik getuig het van die gehardheid en taaiheid van dié beesras. Die meerderheid van die Boran-beeste wat in hierdie studie gebruik is, het ook gunstige vetverspreiding gehad; 89% van karkasse is óf as 'n graad 2 óf as ‘n graad 3 karkas geklassifiseer, ten spyte daarvan dat hierdie diere beide ouer en swaarder as die gemiddelde slagbees was. Oorvet karkasse is ongunstig en kan 'n teken wees van swak vrugbaarheid en ondoeltreffendheid by beeste, daarom was die laer vetvlakke op hierdie diere – wat ouer en dus verwag was om vetter te wees – ‘n bemoedigende en belowende teken.
In 2020 het die Boran weer presteer nadat dit saam met verskeie ander beesrasse deel gevorm het van die Universiteit van Pretoria se Voerkraaluitdaging. Ten spyte van die destydse bek-en-klouseer-uitbraak, het die Boran-ras tydens die kompetisie uitstekende voerkraal- en karkasresultate behaal. Na afloop van die ompetisie het die Borane algeheel tweede geëindi, met ‘n eersteplek in die 500-525 kg lewende massa kategorie.
Die Boran-rasgenootskap van Suid-Afrika het in Desember 2021 aan 'n slagkompetisie deelgeneem, waar diere direk vanaf die plaas na die abattoir geneem was vir slagting, en die beste karkasse as wenners aangewys word. Weereens het die Boran uitgeblink en die interrasklasse gewen – vir die tweede keer sedert die bestaan van dié kompetisie. Die karkasse van die beeste wat in hierdie kompetisie gebruik is, het uitnemendheid getoon in al die karkaseienskappe, insluitend karkasbouvorm en vetverspreiding. Die bespiering van die Boran is een van die karakters wat hierdie ras werklik laat skitter, selfs wanneer dit op die veld uitgegroei is.
Hierdie prestasies is ‘n sterk aandiding van die potensiele voordele van ‘n boerdery met Borane en die gebruik van hul unieke genetika in kruisteelprogramme. Doeltreffende omskakeling van voer na spiere - selfs ruvoer van 'n lae gehalte - gekombineer met die vroë volwassenheid en hoogs weerstandbiedende eienskappe van hierdie ras maak hulle uniek gekwalifiseerd om basterkrag tot ‘n kudde te voeg en prestasie te verseker, hetsy in die voerkraal, of op die veld.