Bovine Brucellosis

2022-09-19 12:03 PM
Share this post on:
Besmetlike Misgeboorte (BM) is ‘n reproduksiesiekte wat deur ‘n intrasellulêre bakterieë, genaamd Brucella abortus bovis, veroorsaak word.

Oorsig van BM

Besmetlike Misgeboorte (BM) is ‘n reproduksiesiekte wat deur ‘n intrasellulêre bakterieë, genaamd Brucella abortus bovis, veroorsaak word. Brucella abortus groei hoofsaaklik in die baarmoeder van vroulike diere oor ‘n verlengde tydperk, en veroorsaak gewoonlik middel tot laattermyn aborsies (4 – 7 maande van dragtigheid) van kallers wat andersins heeltemal gesond sou wees. Besmette koeie en verse is lewenslank besmet en ‘n permanente bron van besmetting vir ander beeste en mense  Tot op hede is geen behandeling vir diere beskikbaar nie.  In die beesbedryf is die voorkoms van BM ‘n groot rede tot kommer weens die finansiële implikasies van dié gevreesde siekte. Die eliminasie van besmette diere, kalwerverlieste en melkverlieste kan ‘n groot impak hê op die ekonomiese volhoubaarheid van ‘n boerdery, en en sodoende moet boere virseker dat hulle alles in hul vermoëns doen om ‘n BM negatiewe kudde te handhaaf.

Simptome van BM

Van die eerste en enigste simptome wat BM besmette diere vertoon is aborsies, dood of vroeg-gebore kallers en agtergeblewe nageboortes. Alhoewel dit grotendeels vroulike diere is wat simptome wys, is daar seldsame gevalle waar BM inflammasie van die reproduktiewe organe van bulle veroorsaak. Soms sal volwasse diere ook geswolle, nie-pynlike gewrigte hê, maar dit is in die minderheid.

Soönose

Een van die grootste bekommernisse van BM is dat dit ‘n soönotiese siekte is wat mense affekteer. BM is hoogs aansteeklik en enige kontak met ‘n besmette dier – of kontak met die geaborteerde fetus of plasenta van ‘n besmette dier – hou ‘n risiko van besmetting in. Infeksie kan deur middle van direkte kontak, inaseming van besmettende organismes of partikels wat in die oë beland, geskied. Die hoof gevaar van meslike besmetting met BM is dat simptome (gewrigpyn, kopseer, depressie, slegte eetlus en gewigsverlies) baiemaal eers maande na infeksie verskyn, wanneer behandeling byna te laat is. Menslike behandeling vir BM onderdruk die bakterieë, maar vir mense met kroniese brusellose sindroom sal infeksies herhalend opduik. Dit is ook baie duur en geskied oor ‘n verlengde tydperk.  

“Geslote” kuddes

‘n “Geslote” kudde – een waar geen diere van buite aangekoop en ingebring word nie en jy slegs met jou eie diere teel – word gesien as ‘n goeie manier om die moontlikheid van BM besmetting in jou kudde te bekamp. Dit is egter baie onprakties en nie altyd haalbaar nie; bulle breek grensdrade om by koeie uit te kom, nuwe teeldiere word benodig om genetiese vordering te maak, vlieë dra BM vanaf een plaas ‘n ander. As gevolg hiervan glo baie mense dat daar inderwaarheid nie iets soos ‘n “geslote” kudde bestaan nie, nietemin is daar baie waarde in die beheer van watter diere toegelaat word op jou plaas en watter nie.

Beheer van BM

Daar is drie kritiese maatreëls om BM uitbrake te beheer: inenting, toetsing en rekordhouding.

Entstowwe verlaag die risiko van brusellose-geïnduseerde aborsies en daarom ook die kontaminasie wat in die omgewing kan plaasvind wanneer ‘n koei aborteer. Huidiglik is daar twee entstowwe beskikbaar teen brusellose; die OBP S19 entstof en die RB-51 entstof. Volgens wet moet alle verskallers tussen 4 en 8 maande met S19 of RB-51 geënt word, waarna ‘n voorgestelde inentingsprotokol met RB-51 tussen 12 en 16 maande en daarna elke 2 na 3 jaar voorgestel word. Jaarlike entings van die hele oei-kudde word voorgestel in die geval waar nuwe diere gereeld aangekoop en ingebring word. Opvolg entings met S19 word sterk afgeraai as gevolg van die moontlikheid van vals posetiewe toetse. RB-51, aan die ander kant, veroorsaak nie vals positiewe resultate nie omdat die LPS syketting deur biotegnologie verander is. Die entstof kan dus ‘n tweede keer herhaal word, maar nie binne 3 maande vanaf die eerste dekking nie en ook glad nie tydens dragtigheid nie. Dit lewende entstof kan potensieel inmeng met konsepie.

‘n Belangrike deel van BM voorkoming en beheer in jou kudde is toetsing. Teen die tyd wat jy BM vermoed in jou kudde is dit einklik al reeds te laat. Daarom moet toetsings van jou hele vroulike kudde op ‘n gereeld basis (jaarliks) plaasvind en toetsings van nuut ingekoopte diere is ononderhandelbaar. BM toetse kan of deur die staat of deur privaat veeartse hanteer word, maar resultate word gewoonlik vinniger gekry wanneer privaat dienste gebruik word. Om BM toetse te doen word bloed getrek en na die naaste geakkrediteerde labretorium gestuur, waarna hulle drie toetse uitvoer. Die eerste toets wat gedoen word is ‘n Rose Bengal Test (RBT), ‘n kwalitatiewe toets wat slegs ‘n posetiewe of negatiewe resultaat gee. In die geval van ‘n negatiewe toets word geen verdere toetse vereis nie, en kan jy met redelike gemoedsrus aanneem dat jou kudde skoon is. ‘n Posetiewe toets sal vereis dat ‘n volgende toets – genaamd die Compliment Fixation Test – gedoen word. Dit is ‘n kwantitatiewe toets wat infeksie tellings weergee. Lae tellings (tussen 20 en 100) is ‘n goeie aanduiding dat ‘n entingsreaksie plaasgevind het en die resultaat ‘n vals posetiewe was. Dit gebeur wanneer diere te laat geënt word. Tellings van 200 en op dui ‘n posetiewe BM geval aan, waarna die laaste toets, ‘n Serum Agglutemation Test, ‘n finale antwoord gee vir dit wat aangaan op jou plaas. Dit is moontlik om vals negatiewe resultate ook te kry, dit gebeur egter gewoonlik slegs by verse. Teen die tyd wat verse vir die eerste maal getoets word is die bakterieë telling in die bloed nog nie van so aard dat dit deur die toets opgetel word nie, as gevolg van die langgroeiendheid van die bakterieë. Daarom is dit krities om bloedtoetse nie te aanskou met individuele diere ingedagte nie, maar die kudde in geheel te laat toets. Juis hierdie rede maak dit uiters belangrik om aan te dring op die BM status van die hele kudde wanneer verse by veilings aangekoop word, en nie net die individuele dier se BM status nie.

Die rol van latente draers moet ook in ag geneem word; dit is diere wat seologies negatief toets, tog is hulle wel draers. Hierdie diere is die nageslag van draerbeeste wat ontwikkel het in die baarmoeder waar Brucella abortus in so ‘n mate teenwoordig was dat hul immuunstelsels dit nie as “vreemd” identifiseer en diagnostiese teenliggaampies daarteen vervaardig nie. Draerbeeste is beeste wat oningeënt is, posetief getoets het en ‘n nageslg voortgebring het. Rekordhouding en naspeurbaarheid van jou kudde is dus krities om die draerbeeste te identifiseer deur middle van goeie rekordhouding, en hulle en hul nageslag te elimineer.

Behandeling

Tot op hede is geen effektiewe behandeling vir diere met ‘n posetiewe BM status beskikbaar nie. Ongeënte diere wat posetief toets vir BM moet volgens wet geslag word, omdat besmette koeie en verse lewenslank besmet en ‘n permanente bron van besmetting vir ander beeste en mense is. Omdat brusellose ‘n intrasellulêre patogeen is, is behandeling met antibiotika nie effektief nie. Die rede hiervoor is dat die minimum hoeveelheid van die antibiotikum wat nodig is om die bakterieë te dood nie die binnekant van die selle kan bereik nie en langdurige behandeling daarmee nodig sal wees. Langdurige behandeling met antibiotika, soos wat dit vir mense vereis word, is ook nie moontlik nie omdat dit groot skade aan die rumen mikrobes van ‘n bees sal veroorsaak. Dié mikrobes is noodsaaklik om die sellulose in die bees se dieet na vetsure te degradeer, wat dan in die lewer omgeskakel word na ‘n baie belangrike energiebron. Antibiotika sal dus die funksionaliteit van die rumen in gedrang bring, waarsonder die dier nie kan leef nie. Bykomend tot hierdie sal antibiotia residue in die vleis of melk van ‘n dier wat langtermyn behandel word ‘n groot risiko wees vir voedselveiligheid en daarom nie geskik vir meslike gebruik nie.

Ten slotte

Die implementering van goeie bestuurspraktyke – soos om die voorgestelde inentingsprogramme to volg, staatsriglyne vir Vervoer te volg en om goeie rekordhouding toe te pas – is die enigste manier om ‘n kudde teen BM te beskerm. Dit is wel elke boer en teler se verantwoordelikheid om seker te maak dat die praktyke deel word van sy bestuursprogram en toegepas word om sodoende sy kudde die beste moontlike kans te gee om BM vry te bly.

×

CONTACT US

OR CONTACT US DIRECTLY

SALES Angeliqa Vorster angeliqa@farmspace.co.za
+27 83 282 0595